Ek het van jongs af geroepe gevoel om in die bediening te gaan, maar ek het geweier omdat ek wou geld maak. God het nie daarvan gehou nie. My lewe was vol finansiële rampe, ten spyte van harde werk en slim planne. Op 19 Oktober 1999 neem ek die besluit (uiteindelik!) om die wil van God te doen en in die bediening te gaan. Dit was nádat Hy met my gepraat het in drome en profesiëe en ander bevestigings.
Maar ek was nog steeds arrogant en wou dit doen op my manier. Ek sou baie geld maak en dit belê sodat ek myself kon finansier. Ek wou nie afhanklik wees van ander of enige iemand om hulp vra nie, ek wou my eie ding doen.
Maar dis nie God se manier van dinge doen nie (in elk geval nie in my geval nie) . Bediening verg spanwerk en dit gaan nie oor een persoon nie. Ek het ‘n boek gekoop op die Anastasia (‘n hospitaalskip) toe sy in Kaapstad vas. Die boek se naam is “Friend Raising – building a missionary support team that lasts”. Dit is geskryf deur Betty Barnett en word gepubliseer deur YWAM. Dit wys baie duidelik dat spanwerk in die bediening ‘n Skriftuurlike beginsel is. Dit bevestig ook die beleid van Operation Mobilisation om slegs persone te stuur wat ‘n ondersteuningspan het (Ek het hul sendingwerkswinkel bygewoon net nadat die Doulos in Kaapstad was). Ek het besef dat ek slegs my roeping kan vervul deur dit op God se manier te doen, en dit beteken met die ondersteuning van ‘n span.
Vir baie jare het God my voorberei. Gedurende die laaste paar maande het ek besef dat dit tyd geword het om in voltydse bediening te gaan, en op 24 September 2010 kom die woord tot my:
“Now is the time to step out”.



